| 2009 06 11 'Plakkers verloor en wen in hoh', Die Burger |
|
Kaapstad. - Sowat 20 000 plakkers van die Joe Slovo- informele nedersetting in die Moederstad het gister regstegnies hul jare lange hofgevegte teen onder meer die Wes-Kaapse metroraad in die konstitusionele hof verloor. Maar die 11 regters van die hof het in vyf verskillende uitsprake wat in 'n finale uitspraak van die gesamentlike regbank van die hof saamgevat is, uiteindelik 'n bevel gemaak wat presies voldoen aan die eise wat die plakkers van meet af aan gestel het. Die geveg oor die grond waarop die nedersetting geleë is, het begin omdat die metroraad die grond wou gebruik om laekoste-huise te bou. Die plakkers sou na onder meer die woongebied Delft moes verskuif. Die regters het gister bevind die plakkers het inderdaad onwettig op die stuk grond geplak, soos die metroraad betoog het. Die regters het dus die plakkers se betoog verwerp dat hul verwydering op 'n skending van die bepalings van die Wet op die Voorkoming van die Onwettige Uitsetting van Plakkers (bekend as PIE) neerkom. Die regters het ook die plakkers se betoog verwerp dat die nasionale en provinsiale ministers van behuising nie hul plig nagekom het om redelik op te tree en die plakkers se reg op huisvesting soos in die Grondwet vervat, te erken nie. Maar, het die regters gesê, daar eindig die saak nie. Hul beslissings beteken nog lank nie dat die duisende plakkers in Joe Slovo nou maar aan hul eie genade oorgelaat kan word nie. Hulle het dus 'n omvattende bevel gemaak waarin die eise wat die plakkers gestel het, vervat is. Al die partye tot die geding is beveel om in "betekenisvolle gesprekke" oor 'n tydrooster vir die verskuiwing van die plakkers betrokke te raak. En al moet die plakkers die gebied verlaat, mag geen enkele plakker uitgesit word nie sonder dat alternatiewe huisvesting aan hom, haar of hulle beskikbaar gestel word wat voldoen aan die minimum vereistes wat die regters in die bevel uiteensit. Die plakkers moet ook met die verskuiwing van hul besittings bygestaan word. Een van die belangrikste eise van die plakkers was dat 70% van die nuwe huise wat op "hul" grond gebou gaan word, aan hulle of gewese inwoners van Joe Slovo beskikbaar gestel word. Die regters het dié versoek van die plakkers ook 'n bevel van die hof gemaak. En om te verseker dat hul bevel tot op die letter nagekom word, het die regters opdrag gegee dat alle partye op 1 Desember aan die konstitusionele hof moet terugrapporteer oor hoe die uitvoering daarvan plaasvind. PHILIP DE BRUIN
|