| 2009 10 31 'Restitusie se rande droog up', Landbou |
|
Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming teken links en regs kontrakte vir die aankoop van grond met die oog op restitusie terwyl die departement nie die geld daarvoor in sy begroting het nie. Mnr. Pravin Gordhan, minister van finansies, het die afgelope week in sy mediumtermyn-begrotingsraamwerk geen aanduiding gegee dat daar noemenswaardig meer geld bewillig gaan word nie. Me. Annette Steyn, ? DA-woordvoerder oor landelike ontwikkeling en grondhervorming, sê sy het in die departement se jaarverslag gelees dat die begroting vir restitusie in die 2008-'09-boekjaar R3,1 miljard beloop het. Daar is kontrakte aangegaan en beloftes aan gemeenskappe gemaak wat gesamentlik R21,5 miljard beloop. Tydens die bespreking van die ouditeur-generaal se verslag oor die geldsake van die departement in die vorige boekjaar, het dit aan die lig gekom dat R8,8 miljard se projekte aan voorheen benadeeldes beloof is terwyl daar nie geld daarvoor beskikbaar is nie. Steyn sê die beloftes wat nie nagekom kan word nie, is besig om spanning in landelike gebiede te laat oplaai wat kan oorspoel in die onwettige besetting van grond soos wat in Zimbabwe gebeur het. Dit blyk nie net politieke bangmaak-praatjies te wees nie. Mnr. Kobus Pienaar van Legal Resources, 'n organisasie wat verskeie gemeenskappe bystaan wat wag op die afhandeling van grondeise, sê die feit dat beloftes nie nagekom word nie, breek die moed van die gemeenskappe. "Dit is besig om die gesag van die leierskap in die gemeenskappe te ondermyn, want die mense begin dink die leierskap het stories oor 'n beter toekoms opgemaak," sê hy. Inligting uit die aansuiweringsbegroting van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming, wat die afgelope week in die parlement ter tafel gelê is, dui daarop dat die departement in die eerste ses maande van die huidige boekjaar reeds 81% van sy begroting van R2,1 miljard aan restitusie bestee het. Desondanks probeer amptenare plase koop en maak beloftes van restitusie aan gemeenskappe. In die huidige begroting vir grondhervorming het die departement in die eerste ses maande van die huidige boekjaar net 31% van die begrote R3,2 miljard bestee. Ten spyte hiervan is 'n moratorium geplaas op die uitbetaal van geld vir plase wat deur die staat gekoop word. Dit laat 'n groot groep plaaseienaars moedeloos, want hulle het op sterkte van kontrakte wat met die staat aangegaan is ander ooreenkomste gesluit en nou word hulle nie vir hul eiendom vergoed nie. Hennie Duvenhage |