2012 01 31 Regering moet dié boodskap duidelik hoor
Dit sal pres. Jacob Zuma en sy regering betaam om die boodskap ter harte te neem dat die howe toegelaat moet word om hul werk ingevolge die Grondwet sonder vrees te doen.

Maar as die kritiese uitlatings van sommige ministers en Zuma oor die land se howe in ag geneem word, is dié onlangse boodskap van oudhoofregter Arthur Chaskalson waarskynlik nie een wat hulle graag wil hoor nie.

Zuma-hulle suggereer telkens dat God by was toe die ANC gestig is en dat die party tot die wederkoms sal regeer. Die subteks is duidelik: die ANC-in-regering sal doen wat hy wil en wee enig­iemand, die land se hoogste howe inkluis, wat 'n stokkie daarvoor wil steek.

Ja, soos Chaskalson in 'n onlangse toespraak uitgewys het, is Zuma reg as hy sê dit is die regering se taak om beleid te bepaal. Maar Chaskalson wys tereg daarop dat dit net die helfte van die prentjie is.

Die land se Grondwet, waarmee die ANC dikwels spog as dit hom pas, vereis egter ook van regters om die Grondwet en die verskanste menseregte daarin te beskerm en te bewaar en om sonder vrees reg ingevolge die Grondwet te laat geskied.

Dit is duidelik dat die regbank, met die konstitusionele hof as die hoogste gesag, aangestel is as hoeder van die Grondwet. Dit is 'n taak wat hom in konflik met die regering sal bring (en inderdaad reeds gebring het) indien laasgenoemde beleid aanvaar wat Grondwetlike beginsels geweld aandoen.

Daarom is dit 'n polities verdagte strategie om die regbank as ongetransformeer uit te kryt wanneer hy die wêreld vir die regering moeilik maak. Die feite is dat sowat 60% van alle regters vandag swart is en die oorgrote meerderheid van alle regters ná apartheid aangestel is.

Die regering moet dus ophou om die regbank verdag te probeer maak, en hom eerder daarop toespits om te sorg dat sy eie optrede binne grondwetlike voorskrifte val. En die howe moet sonder aansien des persoons toesien dat dit wel gebeur.

- Die Burger

 

Staff Login